Navorsingsverslag 2001/2002
1.
Inleiding
Die rol wat die Proteïennavorsingstigting (PNS) speel, veral ten opsigte van gewasse waarvoor daar nie voorheen beheerrade of bemarkingsrade bestaan het nie, word by die dag meer wesenlik. Instansies soos die verskillende provinsies vind dat navorsing al minder moontlik word wanweë 'n gebrek aan befondsing. Die logiese antwoord sou wees dat groter insette van veral die Landbounavorsingsraad (LNR) verwag kan word maar, alhoewel steeds goeie samewerking met die LNR gehandhaaf word, is finansiële druk op hulle aktiwiteite ook duidelik merkbaar in alle opsigte. Die kumulatiewe afname van fondse beskikbaar vir navorsing in Suid-Afrika, veral ten opsigte van landbou, is kommerwekkend aangesien omvangryke langtermyn skade aan navorsing as sulks en die noodsaaklike resultate wat daaruit geput moet word, gedoen word.
Die aksies van die PNS sentreer steeds om drie gewasse te wete sojabone, canola en lupiene, in 'n poging om ingevoerde proteïen vir dierevoeding te vervang met plaaslik geproduseerde proteïen. Die beter ontwikkeling van bestaande produksiegebiede asook die ontwikkeling van nuwe gebiede vir bogenoeme gewasse, het deurgaans hoë prioriteit aandag van die Raad van Trustees van die PNS ontvang, en verskeie aksies is suksesvol geloods.
Kennis is geneem van internasionale en plaaslike gebeure wat 'n invloed gehad het op die pogings om die drie gewasse hierbo genoem, te stimuleer. Malkopsiekte (Bovine Spongiforum Encephelopathy – BSE) by beeste in die Europese Unie het tot gevolg gehad dat daar 'n verbod van ses maande geplaas is op die gebruik van vismeel in herkouer rantsoene wat uiteraard 'n groot invloed gehad het op die voorsiening van voldoende soja oliekoek. Plaaslik sal die voorkoms van roes in sojabone asook die ongekende styging in die prys van mielies, waarskynlik oor die kort tot medium termyn 'n negatiewe effek hê op die oppervlakte uitbreiding van veral sojabone.
Etlike projekte waar GMO 'n rol speel, word tans deur die PNS befonds. In die lig daarvan het die raad dit goedgedink om 'n aantal van Suid-Afrika se voorste bio-tegnoloë na 'n dinkskrum te nooi om die genoemde projekte te evalueer. Hierdie aangeleentheid sal verdere aandag in die volgende navorsingsjaar geniet.